top of page
Writer's pictureArne Verster

Hoekom is daar boosheid in die wêreld?

In hierdie artikel in die “Hoe/hoekom” reeks gesels ons oor swaarkry, boosheid en lyding wat dikwels deur ongelowiges gebruik word as argument teen die bestaan van God. Wanneer Christene skryf oor hierdie probleem in antwoord op ongelowiges, word dit gewoonlik ‘n teodisee genoem. Hierdie is ‘n komplekse onderwerp en daar is al vele boeke geskryf oor dit. Ons gaan slegs probeer om ‘n breë antwoord te gee, gegewe die spasie wat ons het. Die bronne sal verdere inligting bevat.


Kom ons definieer eers die probleem (soos gestel deur die ongelowige) voor ons ‘n antwoord daarop gee. Ek haal aan uit Greg Bahnsen se artikel [1] oor die onderwerp - in sy beskrywing kan mens die omvang van die probleem sien:


Man's inhumanity to man is notorious in every age of history and in every nation of the world. There is a long story of oppression, indignity, unkindness, torture and tyranny. We find war and murder, greed and lust, dishonesty and lies. We encounter fear and hatred, infidelity and cruelty, poverty and racial hostility.


Die argument is dus as volg: Indien God liefdevol is, sou Hy nie wou hê dat Sy skepping moet ly nie. As God alwetend is, sal Hy bewus wees van alle swaarkry. As God almagtig is, sou hy alle swaarkry kan stop. Die feit dat dit nie gestop word nie, beteken dat een van die bogenoemde eienskappe inkonsekwent is met God se karakter, of dat Hy eenvoudig nie bestaan nie.


Die ongelowige


Kom ons veronderstel dit is ‘n ongelowige wat die vraag aan ons rig. Hoe gaan ons te werk? Ons kyk altyd eers na die voorveronderstellings.


In my opinie is die antwoord aan die ongelowige ‘n maklike een, maar mense kan dit soms verkeerd opneem. Hier is die antwoord: Wat is verkeerd met moord, siekte en natuurrampe in die nie-Chirstelike beskouing van die ongelowige (die wêreld waarin die ongelowige beweer om te leef)? Vir die ongelowige is die hier en nou al wat daar is en wat daar altyd sal wees. Alles wat gebeur, is maar net. Daar is geen doel nie, en geen inherente waarde in mense se lewens nie. Uiteindelik is die wêreld ‘n see van chaos wat nêrens heen op pad is nie. Die ongelowige se gevoel dat daar iets inherent verkeerd is met boosheid en lyding, kan gereduseer word tot hulle opinie wat geen objektiewe waarde dra nie.


Inteendeel, mens kan selfs argumenteer dat in ‘n Darwinistiese beskouing (een vorm van ongeloof) waar moord en lyding as goed gesien word, reg is, omdat dit die mens se genetiese poel bevorder, deurdat die wat swak is sterf en slegs die sterkes oorleef.


Wanneer ‘n ongelowige hierdie uitdaging bring kyk baie Christene, miskien uit onkunde, hierdie voorveronderstellings mis. Hulle plaas God in die figuurlike beskuldigdebank, en probeer dan om Sy advokaat te speel deur aan die ongelowige te verduidelik dat God voldoen aan die standaard van goed en sleg wat daar gestel is deur die ongelowige. Hierdie punt is verskriklik belangrik. Die ongelowige argumenteer teen die Christelike wêreldbeeld, en begrond dus goed en sleg nie in God nie. Die ongelowige word die regter oor God se werke in hierdie konteks. Nee, God is die standaard vir goed en sleg. God is goed, dit is Sy natuur. Ontken God, en jy ontken ‘n fondasie vir goed en sleg. Om God aan te kla soos die ongelowige, het jy Hom nodig om ‘n objektiewe standaard te gee vir goed en sleg, voordat enige oordeel gevel kan word. Die ongelowige se argument is daarom self-weerlegend. God word nie aangekla deur mense nie, eerder, Hy kla mense aan deur Sy Woord.


Die gelowige


Maar kom ons sê die vraag word gevra deur ‘n medegelowige wat die Skrif as hoogste gesag beskou. Hoekom is daar swaarkry in die lewe? Die eenvoudige antwoord is sonde. In Genesis 3 leer ons dat mense teen God gerebelleer het, en sodoende ‘n sondige natuur verkry het wat gekant is teen God en Sy Woord. Ons leer ook dat die natuur self swyg onder die invloed van sonde (Rom. 8:18-22, Gen. 3:17). As die Here moes wegdoen met alle boosheid, sou Hy ons as mense moes vernietig en in die helse vuur gooi. Maar, in Sy ongelooflike genade stuur Hy eerder Sy seun, Jesus Christus, om die losprys vir ons sonde te kom betaal in ons plek aan die kruis.


As ons besef dat die Here die standaard vir goed en sleg is, en dat die Here vereis dat ons heilig moet wees soos Hy heilig is (1 Pet. 1:16), dan verstaan ons dat ons deel is van die probleem (want ons is nie goed en heilig nie. Ons is van nature onheilige sondaars). Daarom is al waarop ons onsself kan beroep die genade van die Here (vlg. Sb 26).


Die Bybel leer ons dat die Here swaarkry ook gebruik ten goede. Die Here is goed, daarom is alles wat Hy beskik ook goed. Die verhaal van Josef is ‘n baie goeie voorbeeld hiervan, wanneer hy getuig aan sy boers, “Julle het kwaad teen my beplan, maar God het dit vir iets goeds in gedagte gehad” (Gen. 50:20).


Die Christen het daarom ‘n fondasie (die woord van God) om te kan objektief bepaal wat goed en sleg is. Die Christen besef hy/sy is deel van die probleem. Die Christen verheug Hom in die redding wat God bewerkstellig het vir sy kinders. Die Christen het die troos dat sy/haar almagtige Vader steeds in beheer is, selfs in die donkerste dieptes (Ps. 23). En die Christen kan rustig gaan slaap (Ps. 3:5; Ps. 4:8) met die wete dat die Here alles ten goede laat meewerk vir die wat hom lief het (Rom. 8:28).


Afsluiting


Is dit regtig so eenvoudig? Mense het al boeke geskryf oor die probleem van boosheid, daarom sal dit bietjie arrogant voorkom om te eis dat hierdie kort artikel alle vrae beantwoord. Hopelik het hierdie artikel ons beginsels gegee vir waar ons 'n antwoord kan gaan soek. Sien hierdie video vir 'n meer volledige hantering:



Bronne en verdere lees



Frame, John M. The problem of evil. https://www.blueletterbible.org/faq/evil.cfm


0 comments

Comments


Ondersteun ons werk

'n Donasie van $ 1 kan baie help om ons aanlyn te hou.

Teken in. Wees awesome

bottom of page