Moet ons die Bybel blindelings glo?
Updated: Nov 27, 2021
Die vraag wat in die titel gestel word, word gewoonlik gevra as 'n subtiele aanval teen voorveronderstellende apologete (en diegene wat glo dat die stelsel van waarheid wat in God se Woord geopenbaar word op sigwaarde aanvaar moet word) en nie onderhewig is aan onafhanklike verifikasie deur gebruik te maak van die menslike rede wat op 'n outonome manier werk nie.
Ons sal probeer om die vraag te beantwoord deur na 'n Bybelse voorbeeld te verwys, en daarna die vraag op 'n meer direkte manier te beantwoord.
'n Bybelse voorbeeld
Voor die sondeval het God vir Adam en Eva 'n opdrag gegee:
Toe het die Here God die mens geneem en hom in die tuin van Eden gestel om dit te bewerk en te bewaak. En die Here God het aan die mens bevel gegee en gesê: Van al die bome van die tuin mag jy vry eet, maar van die boom van die kennis van goed en kwaad, daarvan mag jy nie eet nie; want die dag as jy daarvan eet, sal jy sekerlik sterwe.
Genesis 2:15-17, AFR 2020
Die vraag wat ons stel is of Adam en Eva verplig was om die bevel wat God hulle hierbo gegee het te glo (let op dat ek die bywoord "blindelings" uitgelaat het - meer hieroor later), of nie. As ons die bedoeling agter vraag in die titel in ag neem, wil dit voorkom asof die vraesteller glo dat Adam en Eva nie 'n verpligting gehad het om die opdrag op sigwaarde te neem en dit te glo nie. Die vraesteller voel eerder dat hulle geregverdig was om die bevel te "bevraagteken" voordat hulle werklik kon glo dat wat God oor die boom sê waar is.
As ons aanhou lees in Genesis 3, sien ons hoe Satan in die prentjie kom. Eers het Satan God se Woorde verdraai, en daarna het hy dit botweg weerspreek. Eva het nou in 'n dilemma gesit. Volgens God sal sy sterf as sy van die boom van kennis van goed en kwaad eet. Volgens Satan, as sy van dieselfde boom sou eet, sal sy nie sterf nie, maar soos God word. Ons het twee onderling uitsluitende stellings oor die werklikheid van die boom wat nie albei waar kan wees nie. Wat moet Eva doen?
Die verkeerde prosedure
In die prentjie hierbo sien ons God se interpretasie van die boom wat as X aangedui word en Satan se interpretasie as nie X nie. Eva moet nou 'n besluit neem oor die boom. Is God reg, of is Satan reg?
As Eva haarself moet beskou as haar eie outoriteit van wat moontlik en onmoontlik is, en oordele maak deur die wet van nie-teenstrydigheid te gebruik as 'n abstrakte wet wat haar help om moontlikheid en onmoontlikheid te bepaal, sal sy aflei dat God se siening (X) en Satan se siening (nie X nie) nie albei terselfdertyd waar kan wees nie. Maar, net omdat sy weet dat albei nie waar kan wees nie, beteken dit nie dat sy weet watter een wel waar is nie. Miskien kan die boom self haar help om die waarheid te bepaal?
Toe sy na die boom kyk, sien sy die volgende:
Die vrou sien toe dat die boom goed was om van te eet, dat dit 'n lus was vir die oog, en dat die boom begeerlik was om 'n mens insig te gee.
Genesis 3:6a, AFR 2020
Dit lyk dus of die boom ditself aan Satan se interpretasie verleen!
Die eindresultaat van Genesis 3 is dat Eva besluit het om van die vrug van die boom te eet, om God se Woord op die toets te stel, en in werklikheid teen Sy gesag, as God, in opstand te kom.
Die korrekte prosedure
Die verskil in die korrekte prosedure moet dadelik opgemerk word. God is nie meer ingesluit in 'n konteks wat beide die mens, Satan en Homself insluit nie. Hy is die Skeppergod. Die wet van nie-teenstrydigheid word nie meer abstrak opgevat as iets wat moontlikheid en onmoontlikheid wettig nie, maar, God self bepaal die moontlike en onmoontlike. In hierdie siening is die wet van nie-teenstrydigheid 'n eindige weerspieëling van God se selfkonsekwentheid, en 'n instrument waardeur ons die feite van ervaring in gehoorsaamheid aan God kan orden.
God se interpretasie van die boom (X), maak dus die boom wat dit is en is absoluut gesaghebbend. Daar is niks in die skepping wat sy bestaan aan iets anders as God (bv. toeval) te danke het nie. Alles is wat dit is omdat God dit bepaal het om so te wees.
Dit behoort dus duidelik te wees dat as hierdie die siening is wat Eva gehandhaaf het, die ware interpretasie van die boom nooit gevind kon word deur na die Satan te luister nie. Die antwoord is ook nie te vinde deur na die boom self te kyk nie. Die antwoord word gevind deur die feite van ervaring (d.w.s. die boom) in verband te bring met die stelsel van kennis wat God van die skepping het, en dit wat Hy daarvan geopenbaar het. Om die boom werklik te ken, is om te weet hoe die boom verband hou met God se plan vir die boom.
Daarom word die ware antwoord gevind in God se openbaring van wat die boom is, en aangesien God die bepaler is van moontlikheid en onmoontlikheid as die Skepper (en nie 'n derde persoon in 'n vervat in 'n konteks met Eva en Satan nie), is Satan se interpretasie van die boom by implikasie vals. Dit moes van die begin af verwerp gewees het, en hy moes sterk bestraf gewees het deur Adam en Eva.
Moet ons die Bybel blindelings glo?
Gegewe ons kort bespreking aangaande die gebeure rondom en in aanleiding tot die sondeval, kan die vraag nou gevra word: Moet ons die Bybel blindelings glo?
As ons die vraag 'n bietjie anders gevra het, as "Moet ons die Bybel glo?", en sodoende die "blindelings" bywoord uitlaat, is ek seker dat geen Christen sal verskil nie.
Om te vra of ons die Bybel blindelings moet glo, raak dus nie aan of ons die Bybel moet glo of nie, maar dit raak aan hoekom ons in die eerste plek die Bybel moet glo.
Vir sommige mense is die rede waarom ons in die Bybel moet glo omdat ons dit kan toets, dit kan bevraagteken, en onafhanklik kan verifieer dat die aansprake en die inhoud daarvan in ooreenstemming met die werklikheid is. As ons egter hierdie manier van dink oor God se Woord toepas as iets wat onafhanklike verifikasie nodig het om die menslike rede te paai deur dit in lyn met sommige abstrakte denkbeginsels te bring voordat dit geglo kan word, is dit moeilik om te sien hoe ons op enige manier kan uitwys waar Adam en Eva verkeerd geloop het toe hulle van die vrug geëet het. Eerder, God is nie onderworpe aan die geskape werklikheid nie, Hy is die Skepper. Sy Woord is waar omdat dit die Woord van die Skeppergod is.
Om Van Til van hier af te volg, aangesien God die Skepper is van alles wat is, volg dit dat Hy dele van Sy stelsel van kennis aan ons in die Skrif kan openbaar. Aangesien al die feite van ons ervaring (insluitend onsself) hul volle betekenis in God se plan in die Skepping vind, en daar geen derde krag (bv. toeval) is wat God kan laat “wag en kyk wat in die skepping gaan gebeur nie”, beteken dit dat wat ook al God aan ons wil openbaar, hy dit so kan doen met die sekere wete dat daar geen ander krag of mag is wat sy doel met die openbaring kan stuit nie.
Dit is so dat ons rasionele wesens is met die vermoë om te redeneer, maar dit gee ons nie 'n vrye kaartjie om geloof in dit wat God aan ons geopenbaar het op te skort totdat ons onafhanklik kan verifieer dat dit in ooreenstemming met die werklikheid is nie. Dit gee ons ook nie die reg om geloof in God se Woord op te skort totdat ons sistematies elke aspek van Sy skepping en openbaring begryp het nie (wat 'n onmoontlikheid is om mee te begin). Ons word toegelaat om met God se Woord te worstel, en die Kerk het oor die afgelope 2000 jaar geworstel en stelselmatig die waarheid daarin vervat in die belydenisskrifte, maar nooit het hulle die legitimiteit van 'n bewering toegelaat dat God se Woord dalk nie waar kan wees nie. Sodra ons dit toelaat, het ons weggedoen met die Skepper/skepsel onderskeid (m.a.w. God se Woord kan net vals wees, as God op een of ander manier ook vervat is in 'n realiteit groter as Hyself waarvoor Hy nie wetgewing maak nie, en Hy nie beheer nie).
Die bogenoemde beteken ook nie dat ons die Bybel blindelings moet glo nie (soos om die getuienis van 'n moordenaar blindelings te glo dat hy onskuldig is ten spyte van die getuienis wat die teendeel uitwys), maar ons glo die Bybel (God se openbaring aan ons) want daarsonder, kan ons nie sin maak van die werklikheid nie. Dit volg uit die Skeppingsleer. As God die Skepper en beheerder is van alles wat is, was en sal wees, volg dit dat as ons enigsins iets wil verstaan, moet ons dit in verband bring met God se kennisstelsel van die skepping. Om te ontken dat ons dit moet doen, is om op dieselfde manier op te tree as wat Eva in die tuin van Eden gedoen het.
Die manier waarop ons met ongelowiges argumenteer, is dus nie op 'n manier wat ongelowiges toelaat om bewyse teen die Bybel te weeg om dus te bepaal of die Bybel waar is nie (alhoewel daar 'n oorvloed bewyse is wat dit bevestig). Ons redeneer eerder met 'n transendentale argument: Om die Bybel te glo is die enigste manier om sin te maak van die heelal, en as jy dit ontken, vernietig jy die fondamente van kennis. Hierdie is nie 'n blinde geloof nie. Dit is 'n seker, onbetwisbare en onwrikbare geloof. Dit is waaroor voorveronderstelde apologetiek gaan.