top of page
Writer's picturePieter van Deventer

'n Inleiding tot Apologetiek

Updated: Aug 4, 2021

Inhoud

  1. Wat is apologetiek?

  2. Apologetiek en evangelisasie

  3. Moet ons apologetiek doen?

  4. Ons werk en God se werk

  5. Gereformeerde apologetiek


1. Wat is apologetiek?


Apologetiek is 'n onbekende woord. Dis nie 'n woord wat ons eintlik gebruik nie. Dalk hoor jy dit nou vir die eerste keer. En nou wonder jy, wat presies beteken dit?


Wel, dit kom van die Griekse woord, “apologia” wat “antwoord” of “verdediging” beteken. Een van die plekke waar hierdie woord in die Bybel gebruik word, is 1 Petrus 3:15: “Maar heilig die Here God in julle harte en wees altyd bereid om verantwoording te doen aan elkeen wat van julle rekenskap eis omtrent die hoop wat in julle is, met sagmoedigheid en vrees.” Die woordjie “verantwoording” is die Griekse woord “apologia.”


So wat is apologetiek dan? Dit is om verantwoording te doen omtrent die hoop wat in ons is. Prakties beteken dit: Om antwoorde te gee. Ons moet die evangelie met mense deel (Matt. 28:19). Maar wat as hulle vrae het? Wel, apologetiek gaan oor hoe ons daai vrae moet antwoord.


2. Apologetiek en evangelisasie


Maar nou sit ons en wonder: Hoe verskil apologetiek dan van evangelisasie? Is dit maar dieselfde ding? Is dit heeltemal verskillend?


Ons kan evangelisasie definieer as die verspreiding van die evangelie deur prediking en persoonlike getuienis. En dadelik sien ons dat evangelisasie en apologetiek baie naby aan mekaar is. Want as ons evangeliesasie doen – as ons die evangelie versprei deur prediking en persoonlike getuienis – dan gaan dit van nature gebeur dat ons mense se vrae oor die evangelie moet antwoord. En dit is presies wat apologetiek is: Om antwoorde te gee vir vrae wat mense ons vra oor ons geloof. So evangelisasie en apologetiek loop hand in hand.


Apologetiek en evangelisasie het ook dieselfde doel. Altwee gaan daaroor om ‘n siel te wen – nie 'n debat nie. Dis iets wat ons altyd moet onthou wanneer ons besig is met apologetiek. Ons is nie hier om te wys dat ons slimmer is as die ongelowige nie. Ons is hier om sy siel vir die Here te wen.


En ons moet dan ook besef: Wat hierdie ou nodig het is nie nog feite en argumente nie. Die wagte by die graf het Jesus uit die dood sien opstaan en hulle het nie geglo nie. Hoekom nie? Want hulle is sondig. Hulle wil nie glo nie. Hulle wil nie vir God aanvaar nie. Hulle wil nie op hul knieë gaan en hul skuld bely nie. Hulle wil nie die eie-ek prysgee en God verheerlik nie. Ons het nie 'n kop probleem nie. Ons het 'n hart probleem. Ons wil God nie ken nie en daarom onderdruk ons van nature die waarheid (Rom. 1:18-21).


Maar wat het hierdie ou dan nodig – as hy nie nog feite en argumente nodig het nie? Wel, hy het die evangelie nodig. Want in Romeine 10:17 sê Paulus, “Die geloof is dus uit die gehoor, en die gehoor is deur die woord van God.”


Sien julle dit? God gee geloof – nie deur allerhande slim argumente nie, maar deur die woord van God. Daarom mag ons nooit probeer om apologetiek te doen sonder die Bybel nie. Want apologetiek gaan daaroor om hierdie ou se siel te wen. En dit kan nie gebeur sonder die Bybel nie.


3. Moet ons apologetiek doen?


Moet elkeen van ons apologetiek doen? Ja. Ons sien dit die duidelikste in 1 Petrus 3:15 (wat ek hierbo ook aangehaal het) waar Petrus sê, “Maar heilig die Here God in julle harte en wees altyd bereid om verantwoording te doen aan elkeen wat van julle rekenskap eis omtrent die hoop wat in julle is, met sagmoedigheid en vrees.”


Ons moet die evangelie met mense deel (Matt. 28:19), en ons moet gereed wees om hulle vrae te antwoord. Die evangelie is nie 'n dom evangelie nie. Dit maak sin. Daar is orde. Dit is mooi. Dit is waar. En ons moet gereed wees om vir mense te kan wys hoe dit sin maak, hoe daar orde is, hoe dit mooi is en hoe dit waar is. Soos Paulus sê: “Omdat ons dan die vrees van die Here ken, probeer ons om die mense te oortuig.” (2 Kor. 5:11). Ons moet die evangelie verkondig, en ons moet dit oortuigend doen.


4. Ons werk en God se werk


Maar hoe nou: Ons kan mos nie mense oortuig nie. Dis mos God wat mense se harte verander sodat hulle in Hom begin glo! Dit is heeltemal waar. So kom ons gesels bietjie daaroor. Wat doen God in en deur apologetiek, en wat wil Hy hê moet ons doen? Wat is God se werk en wat is ons werk?


Wel, die eerste ding wat ons in die Bybel raaksien, is dat God die enigste een is wat iemand se hart kan verander. In Jeremia 31:18 bid Efraim, “Bekeer my, dan sal ek my bekeer.” En dit is inderdaad hoe bekering werk. Ons is van nature dood in ons sondes (Ef. 2:1). Geen mens kan ons red nie. Geen dokter kan ons terug lawe nie. Ons het nie medisyne nodig nie. Ons het 'n wonderwerk nodig. En God gee dit. Hy gee 'n wonderwerk, want Hy maak ons lewendig in Christus (Ef. 2:5-6). Maar dis altyd Hy wat dit doen – nooit ons nie. Ons kan netsowel met 'n lyk redeneer as met 'n ongelowige as ons dit sonder God gaan doen. Ons sal dalk meer sukses hê met die lyk.


Die tweede ding wat ons dan ook moet bely, is dat God hierdie wonderwerk van wedergeboorte mag gee soos Hy wil. Wie is ons om vir Hom voor te skryf? Hy sê, “My raad sal bestaan, en al wat my behaag, sal Ek doen.” (Jes. 46:10). As Hy almal met blonde hare en blou oë wou red (en niemand anders nie) dan sou ons ook nie in 'n posisie gewees het om Hom te bevraagteken nie. Hy sal genadig wees vir wie Hy genadig wil wees en Hom ontferm oor wie Hy Hom wil ontferm (Ex. 33:19). Of as Hy mense wou red deur die hemele te open en met 'n donderende stem die evangelie te verkondig – wie is ons om Hom te bevraagteken? Hy mag red wie Hy wil, soos Hy wil.


Maar dan is die allerbelangrikste vraag: Hoe red Hy? Hoe kies Hy in sy soewereiniteit om vir ons hierdie wonderwerk van wedergeboorte te skenk? Maak Hy die hemele oop? Kom Hy na elkeen in 'n droom?


Nee. Hy gebruik ons – patetiese, onbekwame, lompe, brutale, sondaars wat ons is – om sy evangelie te verkondig. Ons sien dit in Romeine 10:14-17: “Hoe kan hulle Hom dan aanroep in wie hulle nie geglo het nie? En hoe kan hulle in Hom glo van wie hulle nie gehoor het nie? En hoe kan hulle hoor sonder een wat preek? En hoe kan hulle preek as hulle nie gestuur word nie? Soos geskrywe is: Hoe lieflik is die voete van die wat die evangelie van vrede verkondig, van die wat die evangelie van die goeie verkondig! ... Die geloof is dus uit die gehoor, en die gehoor is deur die woord van God.” God gebruik ons. Hy hoef nie – niks dwing Hom om ons te gebruik nie – maar nogtans doen Hy dit. Deur die Woord en deur die Gees moet ons vir Hom 'n lig en 'n sout in hierdie wêreld wees (Matt. 5:13-16).


En dit laat ons dan besef: Al is God die een wat wedergeboorte skenk, het ons 'n verantwoordelikheid! Dis nie asof ons mag terugsit en koffiedrink nie. Nee. Jesus se laaste bevel aan ons is om dissipels te maak van al die nasies (Matt. 28:19). Dit is ons verantwoordelikheid. En ons moet onsself afvra: Doen ons dit? Is ons gehoorsaam aan ons Heer? Want God roep ons om die middel te wees waardeur Hy sy koninkryk laat groei. Hy roep ons om sy evangelie te verkondig sodat die mosterdsaad 'n boom mag word en daai klippie in Daniël 2 'n rots mag word wat die hele aarde vul. Ons moet die evangelie verkondig: Dit is ons werk. God sal bekeer wie Hy wil. Maar Hy wil dit doen deur ons wat sy evangelie verkondig en verdedig. Hy wil dit doen deur evangelisasie en apologetiek.


5. Gereformeerde apologetiek


'n Groot deel van dit wat ek hierbo uiteengesit het is nie te gewild in hoofstroom apologetiek nie. Daar’s 'n groot klomp apologete wat apologetiek graag wil skei van evangelisasie, sodat dit op die ou end eerder filosofiese redenering is as evangeliserende verantwoording. Die doel is dan nie meer om iemand se siel te wen nie, maar eerder om ons geloof aanvaarbaar te maak vir die wêreld se slim mense. Een van die tragiese gevolge, is dat hierdie apologete dikwels begin om meer staat te maak op hulle eie redenasies en die boeke wat hulle gelees het, as die Bybel. Dit gebeur maklik dat God nie meer die laaste sê het nie, maar eerder die apologeet. En wat gebeur dan? Dan begin ons plek maak vir ewolusie, 'n aarde wat miljoene jare oud is, foute in die Bybel, God wat op een of ander manier afhanklik is van jou, en allerhande ander dwalinge.


Ons moet regtig hiervoor oppas! Die God wat ons Maandag verdedig is dieselfde God wat ons Sondag aanbid het. Ons mag Hom nie verloën nie. Dit beteken dat ons nie die Bybel by die venster mag uitgooi wanneer ons nou besig is met apologetiek nie. Die Bybel het gesag in die kerk en in apologetiek.


Die ouens wat, na my mening, die meeste moeite doen om te bly by die Bybelse beginsels terwyl hulle besig is met apologetiek, is die “Presuppositional Apologists." Dit is skrywers soos Van Til, Bahnsen, Rushdoony, Anderson, Frame en Oliphint. Ek gaan ook baie van hulle boeke gebruik om hierdie artikels te skryf. Vir nou, hier is 10 beginsels wat Oliphint gee vir hoe 'n Gereformeerde apologetiek behoort te lyk:


1. Apologetiek gaan oor die Drie-Enige God wat ons liefhet, en nie oor 'n “generiese teïsme” nie.

Baie keer is die versoeking groot om in 'n debat met ateïste te vergeet dat ons die Drie-Enige God van die Bybel dien. Dit lyk vir ons asof ons alreeds sukses sal behaal as ons hulle net kan oorreed om ten minste teïste te word – al word hulle dan op die ou end Moslems of Jode. Ons mag dit nie doen nie. Ons is nie lojaal aan 'n ongespesifiseerde God nie. Ons is lojaal aan die Drie-Enige God, Vader, Seun en Heilige Gees. En ons moet dit altyd onthou.


2. Die Bybel se gesag is absoluut. Niks kan dit in twyfel trek nie. En ons moet op hierdie gesag staan in ons apologetiese gesprekke.


Artikel 5 van die Nederlandse Geloofsbelydenis sê: “Ons aanvaar al hierdie boeke, en hulle aleen, as heilig en kanoniek om ons geloof daarna te rig, daarop te grondves en daarmee te bevestig. Ons glo ook sonder twyfel alles wat daarin vervat is, nie juis omdat die kerk hulle aanvaar en as sodanig beskou nie maar veral omdat die Heilige Gees in ons hart getuig dat hulle van God is. Hulle het ook die bewyse daarvan in hulleself, aangesien selfs die blindes kan tas dat die dinge wat daarin voorspel is, plaasvind.”


Wat ons hier moet besef is dit: Die HERE en sy Woord is bo ons. Ons is nie bo sy Woord nie. Ons mag nie besluit: hierdie en hierdie is waar, maar daardie en daardie is vals nie. God het die hele Bybel vir ons gegee as absoluut betroubaar. Ons mag niks daarby byvoeg of wegneem nie (Open. 22:18-19).


3. Die Heilige Gees werk deur God se Woord (die Bybel) om sondaars te bekeer.


Ons het reeds hieroor gesels onder “Ons werk en God se werk."

4. Almal is in 'n verbond met God: 'n Verbond van oordeel of 'n verbond van genade.


Dis nie asof die ongelowiges geen verpligting het teenoor God nie. Almal is geskape om in 'n verhouding met die HERE te leef. Elke mens is beeld van God. En omdat ons weghardloop van God en nie 'n verhouding met Hom wil hê nie (Gen. 3:8), is ons skuldig.

5. Almal ken die ware God.

Romeine 1:18-32 sê dat alle mense God ken. Dit is duidelik in vers 21 dat almal nie net 'n abstrakte kennis het van 'n god wat bestaan nie. Nee, almal ken van nature die ware God soos almal van nature hul moeder ken. In apologetiek wil ons dus nie vir mense in die eerste plek leer nie. Ons wil hulle bekeer.

6. Die natuurlike mens onderdruk die waarheid. Maar die nuwe mens sien die waarheid en aanvaar dit en verheerlik God.

Ons sien ook in Romeine 1:18 dat die goddelose mense die waarheid onderdruk. Ons sien in vers 21 dat die russeltaat van dit is dat hulle denke en harte verduister word. Wanneer so 'n mens in Christus ingelyf word, dan hou hy op om die waarheid so te onderdruk en begin hy om God te eer en te dank.

7. Daar is 'n massiewe kloof tussen ons geloof en alle ander gelowe.

Dis nie asof die Moslems, byvoorbeeld, nader aan ons is as die ateïste nie. Nee. Wie nie vir God is nie, is teen Hom. Vriendskap met die wêreld is vyandskap met God (Jak. 4:4). Die Christelike wêreldbeskouing verskil van alle ander wêreldbeskouings soos lig verskil van duisternis. Dit beteken ons hoef nie elke nuwe geloof wat ons mee in kontak kom vanuit 'n “neutrale posisie” te ondersoek voor ons besluit of dit nou reg of verkeerd is nie. Nee. Ons kan weet, omdat ons die lig het, dat alles wat van die lig verskil, duisternis is.

8. Die natuurlike mens onderdruk die waarheid totaal – maar nie absoluut nie.

Totaal: Elke deel van sy lewe word daardeur aangeraak. Wat hy dink, wat hy van hou, wat hy doen – alles word ingekleur deur die feit dat hy die waarheid van God, die wêreld en die mens onderdruk.


Maar dis nie absoluut nie: Dis nie so sleg soos dit kan wees nie. Dis soos 'n swembadbal wat hy onder die water probeer hou: As hy weer sien dan gly dit deur sy vingers en skiet bo die water uit. Ons sien dit in sy gewete: Hy weet sekere dinge is reg en ander dinge is verkeerd. Hy sorg vir sy kinders. Hy word saam met ons kwaad oor onreg. Hoekom? Want hy weet – diep in sy hart – dat dit eintlik die regte ding is om te doen. Hy kan die waarheid nie absoluut onderdruk nie.

9. God se algemene genade maak dat ons apologetiek oortuigend kan wees.

Die natuurlike mens wil nie die Bybel glo nie. Maar dan sit ons en wonder: Hoekom probeer ons dan om met hom oor Jesus te praat? Wel, dis waar ons God se algemene genade moet verstaan. Sy algemene genade is die genade wat Hy toon aan almal in hierdie lewe – sodat die evangelie verkondig mag word. Wat dit beteken: Die natuurlike mens se sondigheid word teruggehou deur God. Daarom kan hy die evangelie hoor, en die Heilige Gees kan die evangelie gebruik om in sy hart bekering te werk.


God se algemene genade maak dat ongelowiges nie so sleg is soos hulle kan wees nie. Maar dit red hulle nooit nie. As jy in hierdie lewe nie bekeer nie, dan is die algemene genade wat Hy aan jou bewys het net 'n getuienis teen jou. Dan dien dit tot jou oordeel.


10. Elke feit gaan oor die HERE.

Die HERE het alles geskep, en Hy het dit goed gedoen (Gen. 1:31). Dit beteken dat elke liewe ding in die skepping, as dit reg geïnterpreteer word, die heerlikheid van die HERE verkondig. Fossiele verkondig die heerlikheid van die HERE, en die waarheid van die Bybel. So ook Wiskunde, Chemie, Biologie, Fisika, Sterrekunde en al die ander wetenskappe. Daar is nie 'n enkele feit in die heelal wat nie vir God se kinders 'n bevestiging is van sy heerlikheid nie.


Skryf gerus hierdie 10 beginsels uit en plak dit op jou yskas. Laat ons dit nooit vergeet wanneer ons besig is met apologetiek nie.


Vrae:

  • Van watse Griekse woord kom apologetiek? Wat beteken hierdie woord?

  • Moet ek apologetiek doen?

  • Is ek besig om apologetiek te doen by die werk, by my vriende, by die plekke waar ek kuier?

  • Is ek oortuigend in die manier wat ek die evangelie deel?

  • Wat is die verskil tussen apologetiek en evangelisasie? Hoe koppel die twee?

  • Wat is God se werk in evangelisasie en apologetiek?

  • Wat is ons werk in evangelisasie en apologetiek?

  • Wat is die doel van apologetiek?

  • Hoekom glo ongelowiges nie?

  • Hoe skenk God wedergeboorte?

  • Wat is die 10 beginsels van 'n Gereformeerde apologetiek?

As jy verder wil lees, hier's 'n paar boeke wat jy kan aanskaf.

Hier's 'n paar artikels waar jy ook jou oog kan gooi.

As jy iemand is wat lang pad ry en verkies om dan YouTube video's te speel, hier's 'n paar kanale wat ek kan aanbeveel.

Bronnelys:

  • Frame, J.M. 2015. Apologetics: A Justification of Christian Belief. P&R Publishing.

  • Oliphint, K.S. 2013. Covenantal Apologetics: Principles & Practice in Defense of Our Faith. Crossway.

  • Verster, A. 2021. Practical apologetics #1: What is presuppositional apologetics? https://www.apologeticscentral.org/post/practical-apologetics-1-what-is-presuppositional-apologetics?


Tags:

0 comments

Comentarios


Ondersteun ons werk

'n Donasie van $ 1 kan baie help om ons aanlyn te hou.

Teken in. Wees awesome

bottom of page