Die mens: Skepsel na die beeld van God
Updated: Nov 29, 2020
In die Rapport van 15 November 2020 was daar 'n uittreksel uit die nuwe boek van Ben Du Toit geplaas met die titel, 'Die mens: Antwoord en ook skepper'.
Die uittreksel begin deur die bekende probleem van kwaad en lyding te stel aan die leser. Hoe kan Christene konsekwent bely dat God almagtig, alwetend en liefdevol is, terwyl ons leef in 'n gebroke wêreld van lyding en seer? Dit is 'n vraag wat ons diep kan tref, veral wanneer ons self sulke lydinge en onreg moet verdra. Die antwoord volgens Du Toit, wat nie meer vir hom geskik is nie, was gevind in die misterie van God se wil. Die nuwe antwoord vir Du Toit is om weg te beweeg van geloof in God af en om eerder 'n soort eksistensialisme te omhels waar hy as mens sy eie lot bepaal in 'n realiteit waar daar geen "metafisiese mag of God as Skepper betrokke is nie".
Volgens Du Toit is die waarheid van wat die mens is as volg: die mens is 'n produk van 'n evolusionêre, biologiese en (hy noem dit spesifiek) goddelose proses. Du Toit se brein "beheer hom en is onvoorspelbaar en kompleks". Die ironie in hierdie "waarheid" of "antwoord" wat Du Toit bied is dat dit ‘n self-weerleggende pseudo-antwoord op die probleem is.
Die "antwoord" op die probleem van kwaad en lyding vir Du Toit is dus om die bestaan van die Skepper God te ontken. Sy antwoord op die ma wat haar kind verloor het, of die vrou wie se man gesterf het op die oorlogsveld is eenvoudig: Wat met die mens op aarde gebeur is maar net, daar is nie reg of verkeerd nie maar net blinde onbeholpe onverskilligheid. Die sterkes oorleef en die swakkes sterf (dit is die essensie van Darwinisme). Of jy nou dink dat dit wat gebeur reg of verkeerd, goed of kwaad is, is jou subjektiewe saak. Vir Du Toit is daar dus nie meer 'n probleem van kwaad en lyding nie. Sy antwoord is om die probleem weg te redeneer deur die mens se plek as skepsel te ontken.
Hoe kan 'n Christen ‘n antwoord bied op Du Toit? Die uittreksel gee ons 'n goeie geleentheid vir die toepassing van Spreuke 26:4-5. Volgens Spreuke 26:5 ”aanvaar” die Christen dat wat Du Toit skryf, korrek is om sodoende die dwaasheid van sy woorde aan die kaak te stel. Indien die "antwoord" sou lê waar Du Toit dit wil plaas, is daar geen standaard om te bepaal of iets objektief reg of verkeerd is nie. Lyding en kwaad is nie 'n probleem nie, dit is normaal en dryf die evolusionêre proses. As iemand sy beursie steel is dit niks meer as 'n meningsverskil nie. Du Toit se nuwe anti-Christelike siening kry hom uit die probleem van kwaad en lyding, maar dit blyk asof hy heel gelukkig onbewus is van die drastiese gevolge van sy nuwe wêreldbeeld.
Hy bevind homself nou vasgestrengel in ‘n egosentriese verknorsing. Al wat Du Toit het is sy subjektiewe opinies gevorm deur 'n self-erkende "onvoorspelbare" brein, met geen regverdiging vir hom om uitlatings te maak oor die objektiewe realiteit buite hom nie. Dit het gevolge vir moraliteit (soos hierbo bespreek), maar ook vir alle ander kennis wat die mens kan (of dink hy kan volgens Du Toit) bekom. Du Toit se brein is onvoorspelbaar en die produk van 'n blinde proses wat hom voortgebring het vir net een doel en dit is om voort te plant. Dink daaraan, sal jy jou laat opereer deur 'n Dokter wat oor ‘n "onvoorspelbare" brein beskik slegs geselekteer vir die doel van voorplanting?
Du Toit kan nie, deur vertroue op sy onvoorspelbare verstand, sy antwoord bied as 'n objektiewe werklikheid nie, omdat sy verstand hom om die bos sal lei as dit enigsins 'n voorplatingings-voordeel daaruit kan kry. Enige stelling wat hy maak, soos byvoorbeeld, "Kennis van jouself is die bron van geluk en vrede", asook, "Ek is die resultaat van 'n biologiese proses" is ook gevorm deur sy onvoorspelbare brein en is op die beste 'n subjektiewe interpretasie deur dié brein.
Du Toit se wêreldbeeld is dood gebore wanneer dit ondersoek word op grond van sy eie stellings. Elke woord wat hy skryf is inkonsekwent met wat hy bely oor wie hy is. Hy skryf nie met groot woorde, mooi vergelykings en metafore omdat hy 'n onvoorspelbare brein en toevallige produk van kans is nie. Die vrees van die Here is die begin van kennis (vlg. Spreuke 1:7). Deur die Skepper te ontken verloor Du Toit onder andere 'n standaard vir objektiewe moraliteit, 'n begronding vir die wette van logika wat noodsaaklik was om sy boek te skryf en 'n regverdiging vir uniformiteit in die natuur wat 'n sentrale aanname is in die ontwikkling van die evolusionêre teorie wat die grondslag bied vir sy nuwe wêreldbeeld (vlg. Bahnsen vs Stein).
Deur die toepassing van Spreuke 26:4 gee die Christen die ware antwoord tot die probleem van kwaad en lyding en Du Toit se siening, vanaf 'n Christelike wêreldbeeld. Die mens is nie die produk van 'n lang evolusionêre proses nie. Die mens is uniek geskape na die beeld van God, en die Here openbaar dat hy die mens goed geskape het. Die mens het waarde, daarom as 'n mens ly, swaarkry, of tot sterwe kom dui dit op ‘n abnormaliteit (vir Du Toit nou ‘n normaliteit).
Die rede vir hierdie kwaad en lyding wat ons ervaar is sonde. Die antwoord is nie, soos Du Toit wil hê, dat die kwaad eintlik net normaal is nie. Sonde is wanneer mense probeer, soos Du Toit, ontken dat hulle skepsels is na die beeld van God en eerder probeer om hulle eie god (“skepper” soos Du Toit dit stel) te wees (vlg. Genesis 3). Wanneer dit die geval is, dan leer die Bybel ons dat die denke van die ongelowige donker en dwaas word (vlg. Efesiërs 4:17-21, Romeine 1:21) soos hulle rebelleer teen hulle Skepper.
Wanneer ons, as wedergebore Christene, reg dink as skepsels in die skepping van die drie-enige God, dan kan ons objektief enige kwaad aanspreek en veroordeel want God self dien as die standaard vir wat reg en verkeerd is en God self sal alle reg laat geskied op die dag van oordeel (vlg. Openbaring 21). Boonop verskaf die Here vir sy kinders 'n groot troos wanneer swaarkry hulle tref, dat alles ten goede sal meewerk vir die wat hom lief het (vlg. Romeine 8). Dit beteken nie dat alles sal goed gaan (in die materiële sin) nie, maar dat die Here omstandighede gebruik om mense te vorm om al hoe meer te word soos Christus - en dit is wat elke Christen begeer.
Maar nou, as God almagtig, alwetend en liefdevol is, hoekom laat hy die swaarkry toe? En is God verantwoordelik vir die sonde van mense? Dit is die vraag waarvoor Du Toit nooit 'n antwoord kon kry nie. Die Gereformeerde (mag ek sê Bybelse) tradisie kan 'n antwoord gee (vlg. Johannes Calvyn, Guillaume Bignon): God is die soewereine Koning van Konings en niks kan gebeur as die Here dit nie so bepaal het nie. Die Bybel leer ons baie duidelik dat die Here sondige aksies van mense bestuur en dat Hy dit so bestuur tot ‘n goeie doel (vlg. Genesis 50:20). Dit is nie toevallig dat Josef as slaaf verkoop is Egipte toe nie. Eerder, die Here het die sondige begeertes van sy broers (wat hom aanvankilik wou doodmaak) ingeperk dat hulle hom slegs verkoop het en sodoende kon die Here deur die sonde van Josef se broers 'n goeie werk na vore bring. Die Here is die enigste een wat die sonde kan toelaat, en dit so kan doen vir 'n goeie doel. Die rede hoekom meeste nie die antwoord sal aanvaar nie, is omdat dit die Bybelse lering van die totale verdorwenheid van die mens voorveronderstel (vlg. Romeine 3:10-18). Die mens begeer reeds die kwaad, die Here beperk dit slegs in en bewerk sy wil.
Laastens, die mens se verstand is nie onvoorspelbaar en die produk van toeval nie. Dit is ontwerp deur die Skepper om die Skepper te openbaar, en om die natuur om ons te ondersoek in 'n ge-ordende manier. Dus in kontras met Du Toit sê die Christen, "Ek is geskape na die beeld van God en het ontsaglike waarde", en "Kennis van God en wat Hy gedoen het vir my as sondaar is die bron van geluk en vrede". Die Christen het 'n vaste grond om dit so te sê op 'n objektiewe wyse. Die Christen het 'n regverdiging vir moraliteit en vir die wette van logika wat begrond is in God en 'n regverdiging vir die uniformiteit in die natuur wat geskep is en steeds onderhou word deur God. Hierdie kontras tussen Du Toit se siening van die mens en die Bybelse (ware) siening van die mens bring die antitese uit tussen die twee. Du Toit vernietig rasionaliteit, die Christen wêreldbeeld gee begronding vir dit. As dit die geval is, hoekom kan Du Toit dan redeneer en skryf soos hy doen? Want alhoewel hy dit ontken, is hy nie wie hy skryf hy is nie. Hy is beeld van God, geskape met sekere gawes met ‘n morele verpligting teenoor die God wie hy probeer onderdruk in ongeregtigheid (vlg. Romeine 1:18-22).
Die wonder van die Christelike wêreldbeeld lê daarin dat God (Jesus Christus, tweede persoon van die drie-eenheid) mens geword het en gesterf het vir die sondes van rebelle soos ek en Ben (vlg. Romeine 5) sodat ons regverdig kan word in die oë van die Vader as ons vertrou op die versoening van Jesus Christus. Die Here gaan 'n end maak aan die kwaad en lyding, dit is vas en seker. Die probleem is dat sonde die oorsaak is en dat die mens, in sy natuur verdorwe en deurtrek van sonde, vernietig sal moet word as die Here end moet maak aan dit. Mense wat kla dat die Here sonde en lyding toelaat vergeet al te vinnig dat hulle deel is van die probleem wat hulle voor die Here se deur lê. Oppas waarvoor jy vra en klou eerder aan die voete van Jesus wat die verdiende straf vir jou goddeloosheid en sonde gedra het. By Hom is die antwoord op jou pyn, en daar kan jy rus vind, want Hy het reeds betaal. Moenie vra dat die Here regverdigheid sal laat geskied nie maar smeek eerder om genade. Die Here sal end maak aan die sonde maar teen dan is dit te laat vir jou om te bekeer. Daar is nog tyd. Bekeer en glo die evangelie.
Comments